Komitee bekyk transformasie in universiteite
2013-01-23 11:38
Johannesburg – 'n Oorsigkomitee wat sal fokus op transformasie in universiteite is aangestel, het Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, Woensdag gesê.
"Ek het vandag die voorreg om die aanstelling van die ministeriële oorsigkomitee oor transformasie in die Suid-Afrikaanse openbare universiteite aan te kondig," het hy aan joernaliste in Johannesburg gesê.
"Dit is 'n lang naam, ons moet nog 'n geskikte afkorting daarvoor soek."
Nzimande het gesê die aanstelling van die komitee is een van die aanbevelings wat gemaak is ná 'n ondersoek na diskriminasie in universiteite. Dít volg ná 'n rassisme-saak by die Universiteit van die Vrystaat in 2008.
Die minister het gesê die oorsigkomitee sal die vordering van transformasie in universiteite monitor en raad gee oor beleid om rassisme, seksisme en ander vorme van diskriminasie uit te roei.
Lede van die komitee is vir drie jaar aangestel en kan heraangestel word deur die minister.
"Die aanstelling van die komitee is van krag vanaf die dag van publisering in die Staatskoerant, wat kort ná dié aankondiging sal plaasvind," het Nzimande gesê.
Die komitee bestaan uit prof. Malegapuru Makhoba, vise-kanselier van die Universiteit van KwaZulu-Natal, Mvuyo Tom, vise-kanselier van die Universiteit van Fort Hare, Nazeema Mohamed, transformasie-direkteur van die Universiteit van Witwatersrand en Zingiswa Losi, tweede adjunkpresident van Cosatu.
Proff. André Keet van die Universiteit van die Vrystaat, Shirley Walters van die Universiteit van die Wes-Kaap en Joe Mpisi, eerste adjunkpresident van Nehawu, is ook deel van die komitee.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA