Kom terug, vra Zim-leier
2009-12-04 06:54
Heindrich Wyngaard
Kaapstad - Die Zimbabwiese premier, Morgan Tsvangirai, het Donderdagaand hier ’n beroep op Zimbabwiërs in die diaspora gedoen om na hul land terug te keer en te help met die herbouproses.
Tsvangirai het ook ’n lansie vir oudpres. Thabo Mbeki gebreek toe hy gesê het die taak van die nuut aangestelde bemiddelingspan van pres. Jacob Zuma is “aansienlik makliker” as dié van Mbeki.
Terselfdertyd het hy sy spyt uitgespreek oor die onlangse voorvalle van xenofobiese geweld teen Zimbabwiërs in onder meer De Doorns. Hy glo nie dit is gebeure wat deur enige regeringsbetrokkenheid aangeblaas word nie.
Tsvangirai het op ’n nuuskonferensie gesê: “Ek is hier om die skeptici, wat oral teenwoordig is, my landsgenote ingesluit, te oorreed dat ons ’n nuwe hoofstuk inlei (in Zimbabwe).”
Dit bied nuwe geleenthede vir Zimbabwiërs – talle met goeie kwalifikasies – om terug te keer.
Die situasie in die land het ongetwyfeld verbeter sedert die nuwe eenheidsregering sowat tien maande gelede in werking gestel is, het Tsvangirai benadruk.
Terwyl meer gedoen kan word wat betref demokratiese verandering, is veel reeds op sosio-ekonomiese gebied bereik.
Dit is onwaarskynlik dat sy party, die MDC, sommer weer sy deelname aan die eenheidsregering sal opskort soos wat hy onlangs gedoen het, het Tsvangirai gesê.
Zuma se bemiddelingspan moet binnekort terugvoering gee oor die pad vorentoe nadat Harare pas besoek is om met die onderskeie partye gesprek te voer. Die span bestaan uit oudministers Charles Nqakula (sy veiligheidsraadgewer), Mac Maharaj (sy spesiale gesant) en dr. Lindiwe Sisulu (sy buitelandse raadgewer).
Op ’n vraag oor die verskil tussen Zuma se benadering en dié van Mbeki, het Tsvangirai gesê: “Mbeki se span moes met die substantiewe kwessies werk, soos om die partye tot onderhandelings te oorreed, terwyl Zuma se span met die implementering van die globale politieke ooreenkoms gemoeid is.”
Dit is wat die Zimbabwiese premier betref ’n veel makliker taak. Zuma se aanstelling van die span word egter deur sommige waarnemers in Suid-Afrika as ’n afjak vir Mbeki beskou.
- Die Burger