'Kom terug na Zim'
2009-08-01 17:46
Johannesburg - Morgan Tsvangirai, eerste minister van Zimbabwe, wil hê die miljoene Zimbabwiërs in SA moet terugkeer na hul geboorteland om uit te help met die herbouing van dié land.
"Die herbouing kan nie deur die regering of die mense in Zimbabwe alleen gedoen word nie," het Tsvangirai by 'n byeenkoms deur sowat 300 Zimbabwiërs by die universiteit van die Witwatersrand (Wits) gesê.
Sy landsgenote het hom gegroet met 'n gesing en gedans deur die skare.
"Julle en elkeen sal hul rol moet speel in ons planne om die land reg te ruk. Zimbabwe is besig om te verander," het hy gesê. "Dit mag dalk stadig en frustrerend wees, maar dit verander wél."
Die byeenkoms by Wits staan in sterk kontras met die een wat Juniemaand in Engeland gehou was, waar Tsvangirai dieselfde versoek aan sy mense gerig het, maar uitgejou was.
Suid-Afrikaanse beleggers het Vrydagaand Tsvangirai met ope arms ontvang, maar dit het gelyk asof hulle hul bedenkinge het om geld in die land te ploeg. Die gevoel was dat dit 'n belegging sal wees wat nie winsgewend gaan wees nie.
- Sapa