Koers vir grondhervorming gou aangedui
2010-02-16 11:19
Kaapstad. – Die regering gaan eersdaags die wense van die DA en die VF+ bewaarheid en duidelikheid gee oor die toekoms van grondhervorming wanneer hy ’n groenskrif ter tafel gaan lê waarin die beginsel van gewillige verkoper/gewillige koper hersien gaan word.
Albei dié partye het Maandag onsekerheid oor die regering se benadering tot landbou en grondonteiening in die debat oor die staatsrede aangevoer as ’n groot bron van kommer in die landbougemeenskap en gesê die staat moet meer doen om steun vir landbou uit te brei.
Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het gesê sy departement gaan die “olifant in die vertrek” takel en bydraes oor dié sensitiewe beginsel vra.
Hy het by navraag gesê die regering kan onmoontlik voldoen aan die vereistes wat aan hom gestel word en beskik eenvoudig nie oor die kapitaal om sy grondhervormingsprogram volledig tot uitvoer te bring nie.
“As ons ons teiken van 34 miljoen ha in swart hande wil haal, het ons R75 miljard nodig om dit te finansier. Ons het nie die geld daarvoor nie. Totdat die konsultasieproses afgehandel is, sal ons voortgaan om grond te koop soos dit moontlik is, asook om in sekere gevalle grond te onteien.”
Dr. Lourie Bosman, DA-LP en woordvoerder oor landbou, het gesê die regering se oormatige klem op transformasie en swart bemagtiging lei daartoe dat landelike ontwikkeling “klaaglik misluk”.
Die regering weet nie meer wat nodig is om landbou volhoubaar te maak nie, terwyl dit steeds nie erken word as ’n bron van buitelandse valuta of ’n werkskeppingsmeganisme nie. Dít, asook gebrekkige beleid en kwetsende uitsprake deur politici, lei daartoe dat Suid-Afrikaanse boere elders ’n heenkome soek.
Ook dr. Pieter Mulder, leier van die VF+ en adjunkminister van landbou, het verwys na die regering se gebrekkige steun vir kommersiële landbou.
Hy het oor plaasmoorde gesê boere se indruk is dit is nie vir die regering ’n belangrike kwessie nie en gevra dat dié moordstatistieke apart aangeteken word.
Bosman het daarmee saamgestem en gesê die regering moet boere en hul plaaswerkers dringend beveilig omdat hulle steeds sagte teikens is.
- Beeld