Koerantleser kry vermiste VS-meisie
2011-09-05 08:11
Kroonstad – ’n Vrou van die dorp het Saterdagoggend ’n einde gebring aan dae van hel vir ’n ouerpaar van Parys wat naarstigtelik op soek was na hul dogter toe sy besef het die vermiste meisie in ’n Volksblad-berig en die hawelose meisie in haar sitkamer is dieselfde mens.
Volksblad, met ’n berig en foto oor die vermiste Shantel Scholtz (14) van Parys, was Saterdagoggend skaars op straat toe Joey Kirchner van die Kroonstadse woongebied Môrewag ao. Brian van Rensburg van Parys gebel het om te sê Shantel is ongedeerd by haar huis.
In dieselfde tyd het Marina Scholtz en haar man, Steven, naarstigtelik op Vredefort rondgevra of iemand Shantel dalk gesien het, omdat sy volgens ’n vroeëre wenk in ’n stadium op dié dorp gesien is.
Shantel, ’n gr.8-leerling aan die Hoërskool Parys, het Donderdag ’n briefie vir haar ouers gelos waarin sy gesê het sy loop weg, want die kinders op skool “terg en spot” haar.
Sy het tot op Kroonstad gekom waar Kirchner haar oor dié “hawelose” meisie ontferm het.
Nadat die polisie Saterdag ontbied is om haar te kom haal, het Shantel aan Volksblad gesê sy het Donderdag van buite Parys tot op Vredefort ’n rygeleentheid saam met ’n vragmotorbestuurder gekry.
Buite Vredefort het ’n polisiebeampte, wat blykbaar nie geweet het Shantel word vermis nie, haar opgelaai en buite Kroonstad afgelaai.
Daarvandaan het sy ’n rygeleentheid tot in Môrewag gekry.
“Ek was nie bang nie,” sê sy oor haar rylopery.
Shantel sê sy het met R5 wat sy in haar sak gehad het, vir haar ’n koeldrank by ’n kafee in dié woongebied gekoop.
“Ek het my koeldrank op die kafee se stoep gedrink toe die tannie (Kirchner) my gesien het.”
Kirchner woon naby die kafee.
Hulle het ’n gesprek aangeknoop en Shantel het aan Kirchner gesê sy ryloop na haar vriende in Bloemfontein.
Kirchner het aan Volksblad gesê: “Ek het vir haar gesê ek sal dit nooit toelaat dat sy soontoe ryloop nie. Ek het haar na my huis toe gevat.”
Kirchner, ’n getroue Volksblad-leser, sê toe sy Saterdagoggend die koerant oopvou, het sy die berig oor Shantel gesien.
Van Rensburg se selfoonnommer was onderaan die berig en Kirchner het hom dadelik gebel.
Mev. Scholtz, ’n verpleegster, sê die oproep dat haar dogter ongedeerd gevind is, was “verskriklike” goeie nuus.
Tydens dié telefoonoproep was die ouerpaar reeds op Vredefort om navraag te doen oor Shantel.
Mev. Scholtz het Volksblad bedank vir die “deurslaggewende” rol wat die berig gespeel het om haar dogter terug te vind.
Inligting oor die redes vir die beweerde spottery word weerhou.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad