Koerant sal appelleer teen Byleveld-beslissing
2012-06-10 14:33
Johannesburg – Die Sunday Times het gesê hy sal teen dr. Johan Retief, die adjunk-persombudsman, se beslissing in die guns van oudbrig. Piet Byleveld appelleer.
Ray Hartley, redakteur, het gesê die koerant "verwelkom die ombudsman se bevinding dat al ons feite akkuraat is en dat ons Byleveld se kommentaar gedra het.
"Ons appelleer teen een bevinding teen ons om duidelikheid daaroor te kry. Ons is nie seker wat ons moet regstel nie."
Retief het Donderdag beslis dat die Sunday Times daarop gesinspeel het dat Byleveld moontlik 'n geskenk ontvang het van 'n verdagte in 'n ondersoek.
"Die Sunday Times moet Byleveld om verskoning vra nadat die koerant in 'n berig op onregverdige wyse in hul hoofopskrif en inleiding daarop gesinspeel het dat hy dalk bewus was van 'n geskenk wat hy van 'n verdagte, wat ondersoek is oor sy moontlike betrokkenheid by die Rolex-bende, ontvang het," het Retief gesê.
"Hulle het, nodeloos om te sê, sy reputasie en integriteit skade berokken... Die inleiding was dalk akkuraat, maar dit was nie regverdig nie omdat dit die indruk geskep het dat Byleveld geweet het, of moes geweet het, dat hy die geskenk ontvang het terwyl Tony Vardas ondersoek is.
Die persombudsman het die saak ondersoek nadat Byleveld en Vardas, 'n afgetrede juwelier, gekla het oor 'n voorbladstorie wat op 12 Februarie in die Sunday Times gepubliseer is. Volgens die berig het Byleveld 'n troupand van 'n man wat met die Rolex-bende verbind word, ontvang.
Vardas het gekla dat die storie hom met die Rolex-bende verbind het. Die verslaggewer het hom nie om kommentaar genader nie en het ook nie probeer om die inligting wat in 'n beëdigde verklaring gekry is, te verifieer nie.
Retief het gesê indien die joernalis vroeër in die berig melding gemaak het dat Byleveld nie geweet het van Vardas se moontlike verbintenis met die Rolex-bende nie, sou daar moontlik nie 'n storie gewees het nie.
"Die inleiding was dus versigtig saamgestel sodat die storie kon volg. Dit is onregverdig om 'n vals indruk te skep, net om dit later reg te stel."
Byleveld het gesê hy was nie bewus van 'n beëdigde verklaring wat deur iemand wat met die Rolex-bende verbind word, gemaak is nie. Maar die koerant het dit ontken en gesê Byleveld was bewus van Vardas se verbintenis met die bende.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA