Kobra: Mikayla is effens beter
2011-12-24 08:59
Antoinette Pienaar
Johannesburg – Dit gaan effens beter met die vyfjarige Mikayla Robbertse van Lephalale (Ellisras).
Dié kind, wat Maandagaand in haar bedjie deur ’n Mosambiekse spoegkobra gepik is, is volgens haar ouma Charmaine gisteroggend laat van ’n respirator afgehaal waarop sy die vorige dag in die waaksaal van die Steve Biko-hospitaal in Pretoria was.
“Sy het vandag vir die eerste keer weer baie wakker gesels. Sy praat een stryk deur en het reeds haar oupa (Bertus) uitgetrap omdat hy volgens haar cheeky is.
“As sy ons eers begin tug, dan weet ons sy word beter.”
Volgens mev. Robbertse is Mikayla steeds geel weens haar lewer wat probleme gee en sy het ook baie opgeswel.
Die dokters was bekommerd dat die slang se gif weefselskade tot in haar borskas veroorsaak het.
Die slang het haar op die hand en elmboog gebyt.
Die uitwerking van ’n Mosambiekse spoegkobra se gif is soortgelyk aan dié van ’n pofadder. Dit veroorsaak nekrose en sy slagoffers kan maande lank weefsel verloor.
Mikayla is die afgelope twee dae onder meer behandel om haar orgaanfunksie te verbeter, het haar ouma gesê.
Dokters het eergister, toe haar toestand erg verswak het, gesê as hulle haar tot môre kan laat leef, behoort hulle haar lewe te kan red.
Daar is steeds ’n moontlikheid dat sy haar handjie of meer weefsel kan verloor.
“Die dokters reken nou sy is een van die sterkste kindjies wat hulle in ’n lang tyd teëgekom het.”
- Beeld