Koalisie deel van DA se strategie
2010-07-25 12:19
Llewellyn Prince en Johann Maarman
Kaapstad - Die Demokratiese Alliansie (DA) moet ’n party van aktiviste op
voetsoolvlak word en een wat sy visier daarop instel om die land te
regeer.
In ’n rigtinggewende toespraak gister het mev. Helen
Zille, DA-leier en Wes-Kaapse premier, ook die sterkste politieke sein
nóg uitgestuur vir koalisiepolitiek.
Sy het aangedui dat samewerking met ander politieke partye ’n moontlikheid is vir volgende jaar se plaaslike verkiesings.
In
haar toespraak voor sowat 1 200 afgevaardiges van die DA se federale
kongres in die Kaaptadse Internasionale Konferensiesentrum het sy ook
gewaarsku dat die DA nie as gyselaar aangehou sal word deur kleiner
partye nie.
“Die afgelope vier jaar het ons baie oor
koalisieregerings geleer. Dit is broos en kompleks om te bestuur, maar
ons moet ons ondersteuningsbasis uitbrei deur ’n herskikking van die
politiek in Suid-Afrika.
“Daar is mense in alle politieke partye
wat ons waardes deel en as ons hulle in een politieke voertuig kan
saambring, glo ek ons kan die meerderheid wees. Ons moet hierdie
meerderheid begin bou.”
Zille se toespraak is voorafgegaan deur
spontane gesing en geskree van slagspreuke deur veral afgevaardigdes van
KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Gauteng wat sterk herinner het aan
ANC-byeenkomste.
In ’n aanval op die regerende party het Zille
gesê: “Regerings met geen vooruitsig om verkiesings te verloor nie, dien
hul eie belange en word korrup.
“Hulle het rasseverdeelheid
nodig om aan die bewind te bly en ondermyn die regsgesag om uit die
tronk te bly. Hul nalatenskap is ’n mislukte staat wat soveel pyn en
armoede in Afrika veroorsaak het.
“Ons het ander keuses. Al hoe
meer Suid-Afrikaners wil hê ons politiek moet ’n oop stryd van idees en
waardes wees pleks van ’n geslote sirkel van konflik tussen verskillende
rasse.
“Elke DA-oorwinning wys demokrasie in Suid-Afrika werk.”
Zille het voorts doelwitte aan haar party uitgestippel.
“Staan dus op teen boelies. Vlek die waarheid oop en hou op om die rassekaart te speel.
“Al
is jy stoksielalleen die DA se verteenwoordiger in ’n verafgeleë
munisipaliteit moet jy aan Helen Suzman dink wat daagliks beledigings en
intimidasie moes sluk.
“Daar is twee maniere hoe politieke
partye in komplekse, multikulturele samelewings kan groei. Die maklike
manier is om die rassekaart te speel.
“Die ander manier is om
mense se vertroue te wen deur hul belange te verteenwoordig en dienste
te lewer. Ons waardes laat ons net toe om dié manier te volg.”
- Rapport