Knysna-busramp: Bestuurder ook dood
2011-08-24 11:00
Kaapstad – Die dodetal van Woensdag se busongeluk in Knysna waarin tien kinders en die bestuurder van die bus dood is, kan verder styg.
"Die jongste dodetal van die Knysna-skoolbusongeluk staan op 11," het André Visser, woordvoerder van ER24, gesê.
"Die dodetal van die ongeluk is steeds besig om te styg," het Keri Davids, woordvoerder van metro-nooddienste, aan Nuus24 gesê.
Kapt. Malcom Pojie, ’n polisiewoordvoerder, het aan Eyewitness News gesê die busbestuurder het vermoedelik beheer oor die voertuig verloor.
Die bus het die brug verlaat en in die dam beland. Die bus het skoolkinders na die Laerskool Rheenendal vervoer.
Davids het gesê die bestuurder van die bus is met paramedici se aankoms op die toneel dood verklaar.
'n Plaaslike inwoner het aan Eyewitness News gesê: "Daar is net lykies waar jy kyk. Dit is regtig hartseer om al die mense hier te sien."
Davids het gesê 46 kinders is na die Knysna Provinsiale Hospitaal geneem vir verdere behandeling.
"Dit lyk asof die ander kinders met of die polisie of privaat voertuie na die hospitaal geneem is."
Die toestand van die beseerde kinders was nie onmiddellik bekend nie.
Die Wes-Kaapse departement van onderwys het 'n taakspan aangestel om die oorsaak van die ongeluk te ondersoek.
Die polisie en duikers van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is op die toneel.
Die wrak van die bus is steeds in die dam vasgekeer.
Davids het gesê 'n verklaring sal later uitgereik word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24