Knysna: Toeris op boot breek rug
2012-01-14 12:18
Knysna – 'n Toeris van Engeland moes per boot naby die Knysna-koppe gered word ná hy sy rug gebreek het terwyl hy met 'n boot gery het, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) Saterdag gesê.
Die NSRI het Vrydag om 15:45 inligting ontvang dat 'n man sowat 3 km van die kus af beseer is, het Craig Lambinon, woordvoerder vir die NSRI, gesê.
"Met ons aankoms op die toneel is die 47-jarige David Burdett, van Eastbourne in East Sussex, in Engeland, wat saam met sy familie in Suid-Afrika met vakansie was, vir 'n besering aan sy lae rug behandel.
"Hy het vermoedelik die besering opgedoen terwyl hy met 'n gehuurde boot oor die golwe gejaag het," het hy gesê.
Burdett is per boot na 'n ambulans vervoer, en is in 'n stabiele toestand na 'n hospitaal geneem.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA