Knoeiery ry grondhervorming in die wiele
2009-10-13 16:10
Parlement - Onderduimse samewerking tussen grondeienaars, eiendomsagent en regeringsamptenare is besig om grondhervorming in die wiele te ry.
Dit was Dinsdag die boodskap van Joe Phaahla, adjunkminister van grondhervorming, tydens 'n perskonferensie rondom die probleme wat sy departement in die gesig staar.
Phaahla sê die waarde van grond skiet die hoogte in sodra eienaars hoor die regering stel belang in hul grond.
"Daar is onderduimse samewerking in die mark wanneer die regering 'n moontlike koper is. Dit belemmer die idee van 'n gewillige koper en verkoper."
Dit is veral 'n probleem in die geval van 'n wetlike grondeis, wat die regering aan gehoor moet gee.
Volgens Phaahla is 'n model wat alleenlik staatmaak op 'n gewillige koper en verkoper "problematies".
Die regering erken die Konstitusie en eiendomsreg, maar 'n "meer gebalanseerde" benadering tot die kwessie van grondhervorming moet gevind word, het die adjunkminister gesê.
- Sapa