‘Klopjag’ moes Cele glo in verleentheid stel
2011-03-06 09:02
Adriaan Basson en Erna van Wyk
Die spanning tussen genl. Bheki Cele, polisiehoof, en lt.genl. Richard Mdluli, nasionale intelligensiehoof, het breekpunt bereik nadat twee polisiebeamptes by die openbare beskermer (OB) se kantore opgedaag het.
City Press, Rapport se susterkoerant, verneem vertroulik Cele was siedend toe hy gehoor het van die “verrassingsbesoek” aan die kantoor in Pretoria van adv. Thuli Madonsela, OB.
Die twee polisiebeamptes, wat geïdentifiseer is as kapt. Nkuta en lt.kol. Maluleka, is intussen geskors.
Kgalalelo Masibi, Madonsela se woordvoerder, het gesê die polisielede het haar ingelig dat hulle ’n opdrag van ene kol. Heine uitvoer.
Die spanning tussen Cele en Mdluli laai glo al geruime tyd op omdat Cele en sy aanhangers Mdluli sien as die laaste oorblywende senior offisier uit die era van Cele se voorganger, Jackie Selebi.
Mdluli is, sowat ’n maand voordat Cele aangestel is, bevorder van adjunkhoof van die polisie in Gauteng tot sy huidige pos.
Volgens ’n bron het die polisiebeamptes Madonsela se kantoor besoek om die dokumente te bekom wat sy gebruik het vir haar verslag oor die omstrede R500miljoen-huurooreenkoms vir ’n polisiehoofkantoor. Dit hou glo ook verband met ’n polisie-ondersoek na die uitlek van inligting uit die OB se kantoor.
Dit is onduidelik of Cele die laasgenoemde ondersoek van stapel gestuur het óf selfs bewus was daarvan. Die bron is egter oortuig dat Cele niks te doen gehad het met die besoek aan die OB-kantore nie.
Sommige binne misdaadintelligensie meen Mdluli sit agter die petalje omdat hy Cele in die verleentheid wou stel.
Kol. McIntosh Polela, polisiewoordvoerder, wat die besoek “onwettig” genoem het, het gesê hy gaan nie op gerugte reageer nie. Polela het gesê hy is nie bewus van spanning tussen Mdluli en Cele nie en het die gerugte as belaglik bestempel.
Intussen het Madonsela Cele se verskoning aanvaar en sy wag volgens Masibi op die bevindinge van die polisie se interne ondersoek.
“Ons wil weet waarom hulle hier was,” het sy gesê.
Volgens Masibi het Madonsela aan Cele geskryf dat sy duidelikheid wil hê oor die voorval.
“Sy is veral besorg dat sy nie vooraf van die besoek ingelig is nie.”
Die voorval het wye kritiek ontlok van onder meer Cosatu, opposisiepartye en nie-regeringsorganisasies.
Nathi Mthethwa, minister van polisie, het ook ’n volledige verslag gevra.
Die twee polisielede bly geskors totdat die ondersoek afgehandel is.
- Rapport