Dooie duiwe in stad slaan inwoners dronk
2010-09-28 09:03
Kaapstad - Is daar ’n gifmoordenaar in die Kaapse Skiereiland doenig, of is dit bloot een van daardie onverklaarbare natuurverskynsels?
Niemand kan in die stadium sê nie, so vir eers bly Kapenaars dronkgeslaan oor ’n klomp dooie duiwe wat Sondagoggend op die N2 by die hawegebied gestrooi gelê het.
Met Die Burger se besoek aan dié stuk pad Sondagoggend is altesaam 24 dooie duiwe oor ’n afstand van 150 m getel.
Dit wou voorkom of sommiges deur motors doodgery is, terwyl ander net daar op die plek omgekap het.
Die dooie duiwe het op die brug oorkant die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) gelê waar die pad na die N1 en N2 vurk.
Leighton Koopman berig ’n klomp dooie duiwe het gister omstreeks 16:00 ook op die N1 naby die Maitland-afrit gelê.
Andries Venter, senior inspekteur van die Kaap de Goede Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV), het gesê die DBV het drie weke gelede 17 dooie duiwe in Lansdowne gevind en vir forensiese toetse na die departement van landbou se instituut by Elsenburg gestuur.
“Die toetse het getoon die duiwe is vergiftig en ons vermoed dieselfde lot het die duiwe op die N2-brug getref,” het Venter gesê.
Die Burger het intussen ook te hore gekom van nog ’n klomp dooie duiwe wat op die N2 naby Pinelands gevind is. Dié voëls is vermoedelik ook vergiftig.
Dalton Gibbs, suidelike areabestuurder van die Stad Kaapstad se departement van natuurbewaring, het gesê dit is onmoontlik om in dié stadium te bevestig waaraan die duiwe op die N2-brug dood is. “Die karkasse sal eers ondersoek moet word om te bepaal of hulle enige virusse gehad het wat hulle laat vrek het.”
Gibbs het gesê indien dit nie ’n virus is nie, is daar baie ander moontlikhede vir die massavrektes. “Ek dink wel 24 dooie duiwe op ’n stuk pad van 150m is baie vreemd. Dit moet beslis ondersoek word.”
- Die Burger