Klimaat: ‘SA is te oningelig’
2009-12-07 06:55
Elise Tempelhoff
Johannesburg - Suid-Afrikaners is feitlik heeltemal oningelig oor klimaatsverandering, reken ’n internasionale instituut wat in omgewingskwessies spesialiseer.
Dit kan meebring dat talle van die regering se planne oor klimaatsverandering nooit ’n werklikheid kan word nie, sê navorsers by die World Resources Institute (WRI) in ’n publikasie wat uitgereik is op die vooraand van die klimaatberaad in Kopenhagen, Denemarke.
Die navorsers sê min Suid-Afrikaners weet wat klimaatsverandering is en wat dié verskynsel vir hulle inhou. Hulle weet nog minder hoe hulle daarby sal moet aanpas. Suid-Afrikaners word ook nie daartoe in staat gestel om die debatte oor klimaatsverandering te volg nie.
Die navorsers meen die Suid-Afrikaanse regering moet aan sy burgers verantwoording doen oor die land se planne om by klimaatsverandering aan te pas en hulle moet by gesprekke daaroor betrek word.
Die Suid-Afrikaanse afvaardiging by klimaatberade kwyt hulle egter uitstekend van hul taak, meen die navorsers.
“Suid-Afrika kon tot die Afrika-groep verenig, wat sal meebring dat dié vasteland se afgevaardigdes vandeesweek met een stem praat. Hulle sal dus saam druk op nywerheidslande (ontwikkelde lande) uitoefen om hulle by klimaatsverandering te help aanpas.”
Al het Suid-Afrika uitdagings soos MIV/vigs, het die land redelike welvaart en natuurlike hulpbronne. Boonop het die land ’n sterk en invloedryke wetenskaplike en akademiese gemeenskap wat ’n kernrol speel in die modulering van klimaat- en weervooruitsigte en ander ekologiese inligting wat by die klimaatbeleid ingesluit is.
Die Suid-Afrikaanse regering kon egter nog nie alle inligting koördineer oor klimaat-uitdagings en die aanpassing daarby nie.
Hulle wys daarop dat boere in Limpopo en die Noord-Kaap byvoorbeeld nog nie weet hoe om hul landboubedrywighede aan te pas by verwagte klimaatsverandering nie.
Dit blyk die regering sukkel om inligting oor klimaatsverandering te deel met die burgerlike samelewing en dat dit planne kan laat skipbreuk ly om na ’n koolstofneutrale ekonomie te beweeg en aan te pas by uiterste weersomstandighede.