Kleuter verwurg, pa nog nie aangekla
2009-11-13 13:06
Retha Grobbelaar
Johannesburg - Die man wat Woensdagaand met ’n mes in sy borskas saam met sy vermoorde dogtertjie in ’n Johannesburgse woonstel gevind is, is onder polisiebewaking in die hospitaal.
Die man is nog nie aangekla nie, het sr.supt. Noxola Kweza, polisiewoordvoerder, gister gesê.
Volgens haar het ’n lykskouing gewys die meisie is verwurg.
Die drama het Woensdagaand omstreeks 20:00 ontvou toe die man se vrou glo nie in die woonstel in Craighall Park kon kom nie.
Beeld het betroubaar verneem sy het toe haar dogtertjie en die man deur ’n venster op die bed sien lê. Sy het die venster gebreek om in te kom en die polisie gebel.
’n Mes het nog in die man se borskas gesteek.
Die paartjie was nie getroud nie, maar het glo saamgewoon.
Die dogtertjie is hul kind.
Kweza kon gistermiddag nie sê of die voorval ’n moord en selfmoordpoging was nie.
“Ek kan dit nie sê nie. Ons het hom saam met die dogtertjie in die huis gekry en dit was van binne gesluit,” het sy gesê.
Kweza wou nie ook nie die drie se name bekend maak nie.
– Beeld