Kleuter sterf toe kluis op hom val
2010-05-19 08:34
Bloemfontein - ’n Fratsongeluk het gister die lewe van ’n tweejarige kleuter in Fichardtpark, Bloemfontein, geëis.
Klein Jayden Nienaber het omstreeks 08:00 in ’n kas in sy ouerhuis gespeel toe ’n kluis, wat in die kas was, bo-op hom geval het.
Volksblad het betroubaar verneem dat sy ma, mev. Nadine Nienaber, ’n radiografis van Van Dyk en Vennote by die Bloemfontein-Medi-Clinic, gereed gemaak het om die begrafnis van klein Shiloh by te woon.
Shiloh, wat gister begrawe is, is dood nadat sy in ’n plastieksak op ’n straathoek gevind is.
“Sy en die versorgingsma van klein Shiloh was glo vriendinne.
“Klein Jayden se ma het glo die slag gehoor en na hom geroep. Toe hy nie antwoord nie, het sy na hom gesoek en hom met die kluis bo-op hom gekry,” het die ingeligte gesê.
Volgens mev. Esmarie Cronjé, woordvoerder van die Life-Rosepark-hospitaal, waar klein Jayden opgeneem is, sê hy het baie erge kopbeserings gehad.
“Hy is dadelik teater toe geneem en die dokters het die bloeding op sy breintjie gedreineer.”
Cronjé sê hy is in die neonatale hoësorgeenheid van die hospitaal opgeneem.
“Sy toestand was deurentyd kritiek en hy is omstreeks 15:00 oorlede.”
Sy pa is mnr. Pietie Nienaber, ’n assessor by ’n versekeringsmaatskappy.
Die ouers was gister te getraumatiseer om met Volksblad te praat.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad