Kleuter gevind, nié met ouers herenig
2011-06-29 14:53
Kaapstad – Chante Christoffels (3), wat vir meer as drie weke lank vermis en die afgelope naweek gevind is, sal nie gou met haar ouers herenig word nie.
Die kleuter se ouers het Dinsdag in die Bellville-landdroshof verskyn waar hulle redes moes aanvoer hoekom hul kind terug in sorg geplaas moet word.
'n Gebrek aan behuising het teen Emmerentia Christoffels en Cedric Julisen, wat albei op straat woon, getel.
Christoffels en Julisen is vroeër uit 'n huis in Blikkiesdorp, Delft, geskop.
Die hof het besluit om Chante in 'n plek van veiligheid te hou.
Chante het drie weke gelede spoorloos verdwyn terwyl haar ouers as motorwagte oorkant die Middestad-inkopiesentrum in Bellville, Kaapstad, gewerk het. Daar word vermoed dat 'n vrou, slegs bekend as "Straatloper", haar op 3 Junie ontvoer het.
Die kleuter is Saterdagoggend in 'n parkie gevind en na 'n hospitaal geneem.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter