Kleuter byna by die skool ontvoer
2010-06-09 09:36
Beeld
Johannesburg – 'n Ma van Rooihuiskraal in Centurion het kliphard gegil toe ’n man haar tweejarige dogtertjie voor haar kleuterskool in die parkeerterrein probeer gryp het.
Die 33-jarige vrou, wat nie haar identiteit bekend wil maak nie, het Vrydagmiddag net ná 16:00 haar dogters, vier en twee jaar oud, by die kleuterskool gaan oplaai.
“My oudste dogter was ’n halwe meter voor my en die jongste was ’n halwe meter agter my. Die volgende oomblik het die man op my kind afgestorm en haar probeer gryp.
“Ek het kliphard begin gil. ’n Ander ma wat in daardie stadium net by die kleuterskool se hek ingestap het, het omgedraai en na ons toe gehardloop.
“Die man het gesê hy wil my kind met haar sak help, maar ek het hom nie geglo nie en het aanhou gil. Toe die ander ma by ons kom het die man net verdwyn,” het sy vertel.
Die eienaar van die kleuterskool het gesê al die kinders by die kleuterskool se ouers is reeds gewaarsku om ekstra versigtig te wees.
Intussen het die vakbond Solidariteit Helpende Hand ouers gewaarsku teen die gevare wat WB 2010 vir kinders inhou.
“Suid-Afrikaanse skole sluit môre vir die duur van WB 2010. Baie kinders, veral in minderbevoorregte gemeenskappe waar min toesig is, gaan uitgelewer wees aan uitbuiting gedurende dié tydperk,” het dr. Danie Langner, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, gesê.
Volgens hom is kinders oor die algemeen meer blootgestel aan mishandeling, verwaarlosing en uitbuiting gedurende vakansietye wanneer daar niemand tuis is om na hulle om te sien nie.
Langner het gesê daar is ook ’n gevaar dat weerlose jong meisies in arm gemeenskappe as kinderprostitute gewerf kan word.
Helpende Hand het opnuut geëis dat die kinderbeskermingseenhede (KBE) heringestel word.
Die KBE is in 2006 uitgefaseer om, volgens die regering, die diens meer toeganklik te maak vir gemeenskappe.
Volg Beeld op Twitter
- Beeld