Kleinseun vermoor glo ouma (91)
2011-11-21 13:19
Oos-Kaap – 'n Man is in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy 91-jarige ouma by haar huis in die Nqadu-nedersetting in Willowvale in die Oos-Kaap doodgesteek het, het die polisie Maandag gesê.
Twee kinders het glo gesien hoe die 30-jarige man die bejaarde vrou met 'n mes doodsteek, het kapt. Jackson Manatha gesê.
Die voorval het omstreeks 08:00 Sondagoggend plaasgevind en die man is 'n rukkie later op die toneel in hegtenis geneem.
Die man sal na verwagting Maandag op aanklag van moord in die Willowvale-landdroshof verskyn.
"Die oorsaak en motief vir die moord is nie bekend nie," het Manatha gesê.
Die vrou het saam met haar kleinseun en die twee kinders in die huis gewoon.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA