Klein robot help dalk lewens red
2009-11-19 07:20
Dries Liebenberg
Durban –
’n Bonkige buksie van ’n robot is vandeesweek by die Universiteit van
KwaZulu-Natal bekend gestel wat moontlik eendag kan help om die lewe
van brandweermanne en reddingswerkers te red.
Caesar staan maar 27 cm hoog op sy rusperbande en is 70 cm lank en breed.
Dit is ’n akroniem vir Contractable Arms Elevating Search and Rescue Robot.
Caesar
kan vir ’n uur lank met sy battery-aangedrewe 12V-motortjie trappe
klim, oor onstabiele puin beweeg en hindernisse uit sy pad stoot om by
klein openinge in te kom om te sien of mense vasgekeer is.
Buiten
die twee rusperbande het die robot ook twee stelle arms wat met
rusperbande toegerus is wat dit groter beweeglikheid gee.
Volgens Riaan Stopforth van die universiteit se skool vir meganiese
ingenieurswese is sulke stedelike soek-en-reddingsrobotte vir die
eerste keer ná die World Trade Centre-ramp in 2001 ingespan.
Tydens
reddingswerk ná die terreuraanval het 65 reddingswerkers verdrink toe
’n deel van die puin oorstroom het terwyl hulle na oorlewendes gesoek
het – en daar was geen oorlewendes nie.
Anders as die robotte
wat by die World Trade Centre gebruik is, word Caesar koordloos beheer
en verwar hy nie sy beheerseine met die radioseine van ander robotte of
reddingspersoneel se radio’s nie.
Hy is met ’n termiese kamera toegerus sodat sy videobeelde nie deur digte rook belemmer word nie.
Danksy ’n luidspreker kan reddingswerkers ’n slagoffer raad oor noodhulp gee totdat hy of sy gered kan word.
Volgens
prof. Glen Bright, hoof van die skool van meganiese ingenieurswese, het
dit drie jaar geneem om Caesar teen ’n koste van R300 000 te ontwikkel.
Hulle beoog om Caesar te verfyn, maar die kommersiële beskikbaarstelling van dié prototipe sal van die aanvraag afhang.
-
Beeld