Klasse hervat ná moord op onnie
2011-11-21 15:34
Limpopo – Klasse by die Masehlong Primêre Skool in Matlala naby Polokwane is Maandag hervat nadat 'n onderwyser ten aanskoue van leerders by die skool aangeval is.
Pat Kgomo, woordvoerder van die departement van onderwys in Limpopo, het Maandag gesê klasse is vir drie dae ná die aanval gestaak.
Gilbert Shapo is in die hospitaal dood nadat sy broer hom na bewering Dinsdag by die skool met 'n panga geslaan het.
Kgomo het gesê die leerders en onderwysers het berading ontvang.
Die polisie ondersoek die motief vir die aanval.
Shapo, wat teregstaan op aanklag van moord, sal na verwagting Maandag in die Matlala-landdroshof om borgtog aansoek doen.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA