Klagtelyn van Zuma kort meer woema
2010-03-18 06:17
François Haasbroek, Die Burger
Johannesburg-’n Groep parlementslede gaan vra dat meer operateurs aangestel moet word om klagtes by die presidensiële klagtehulplyn-sentrums te hanteer.
Dié afvaardiging van 20 parlementslede, waaronder party-hoofswepe, het die twee beheersentrums gister besoek.
Die sentrum by die staatsinligtingstegnolgie-agentskap (Sita) in Centurion hanteer alle inkomende oproepe en verwys meer ingewikkelde en sensitiewe gevalle na die sentrum by die Uniegebou in Pretoria.
Die hulplyn is die geesteskind van pres. Jacob Zuma en is op 7 Oktober 2009 amptelik geopen om landsburgers ’n kla-plek te gee as hul reken dat openbare dienslewering nie na wense is nie. Die presidensie wil dié klagtes gebruik om dienslewering te verbeter.
Meer as 190 000 oproepe is sedertdien ontvang, waarvan byna 45 000 klagtes aangemeld en sowat 20 000 klagtes opgelos is.
Die aantal klagtes het egter elke maand aansienlik gedaal soos wat mense oproepe beëindig het omdat operateurs nie gou genoeg by hulle kon uitkom nie. Verlede maand is 38 524 oproepe ontvang, waarvan 31 913 beantwoord is.
Vusi Mona, kommunikasiehoof, het gesê die afname in oproepe is “natuurlik”.
“Soos met alle nuwe dinge was die belangstelling baie groot aan die begin. Ons het ook baie gesukkel met fop-oproepe. Die getal inbellers sal mettertyd stabiliseer.”
Dr. Mathole Motshekga, ANC-hoofsweep en leier van die afvaardiging, meen die hulplyn dien ’n baie belangrike doel.
“Dit is ’n platform waar burgerlikes met die regering kan kommunikeer en andersom.”
Motshekga het Zuma geloof vir sy plan om die hulplyn in te stel en hy meen dit werk, al het hulle nie gedink dit sal gou vrugte afwerp nie.
Mnr. Letlapa Mphahlele van die PAC is ook positief daaroor, maar meen daar is steeds tekortkominge. “Ons weet nie of die boodskappe wat ontvang word, afgelewer word nie. Iemand mag dalk ’n korrupte staatsamptenaar identifiseer, maar wat dan? Net die helfte van die klagtes word opgelos.”
Die afvaardiging het gesê die grootste probleem wat hulle geïdentifiseer het, is te min personeel.
Die hulplyn se begroting is reeds van R5 miljoen tot R10 miljoen.
Motshekga het gesê hulle gaan by die parlement aanbeveel dat die personeel vermeerder word.
“Die projek werk. Die enigste probleem is die kapasiteit.”
- Die Burger