Klagte van bedrog ingedien ná vleis-skandaal
2011-11-12 10:00
Kaapstad – Die Moslem Juridiese Raad Halaal-trust (MJRHT) het Vrydag sy betrokkenheid by Orion Cold Storage opgeskort hangende die uitslag van ’n ondersoek na Orion se bedrywighede.
Die halaal-sertifikasie van Orion-produkte is ook opgeskort.
Luidens hofstukke wat by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien is, het Orion ingevoerde varkharte, waterbuffel- en kangaroevleis as bees-, skaap- en kalfsvleis verkoop – in sommige gevalle glo met ’n halaal-etiket.
Die hofstukke het deel uitgemaak van ’n aansoek om ’n interdik teen Orion Cold Storage wat deur die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy en die Suid-Afrikaanse Rooivleisforum gebring is.
Die MJRHT se stap volg op klagte van bedrog wat Imraahn Ismail-Mukaddam, Wes-Kaapse hoof van die Nasionale Verbruikersforum, en Hanif Loonat, voorsitter van die Wes-Kaapse polisiëringsforum-raad, Vrydag teen Orion Cold Storage by die Muizenberg-polisiekantoor ingedien het.
Loonat het gesê indien beweringe teen Orion waar is, is die onderneming se bedrywighede misdadig van aard en moet hy vervolg word.
In ’n beëdigde verklaring wat Donderdag by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien is, voer Patrick Gaertner, besturende direkteur van Orion Cold Storage, aan dat die bewerings van bedrog ’n komplot is.
Die Moslem Juridiese Raad (MJR) se president, moelana Ihsaan Hendricks, het Vrydag bevestig dat die MJR besigheid met Orion opgeskort het.
“Ons veroordeel die beweerde etikettering van produkte wat nie halaal is nie as halaal-produkte.”
Die MJRHT het gesê nie alle Orion-produkte wat deur die MJR gesertifiseer is word geraak nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger