Klagte oor siekefondse styg skerp
2011-09-07 07:01
Pretoria – Die aantal klagte oor mediese fondse het die afgelope finansiële jaar skerp toegeneem, hoofsaaklik oor voordele wat nie ingesluit is en rekeninge wat nie betaal is nie.
Luidens die Raad op Mediese Skemas (RMS) se jaarverslag vir 2010-’11 wat Dinsdag in Pretoria bekend gemaak is, het fondse 5 617 klagte ontvang, 1 000 meer as die vorige finansiële jaar.
Die grootste ongelukkigheid was oor voorgeskrewe minimumvoordele, medisynelyste en aangewese diensverskaffers (praktisyns of hospitale wat lede verplig is om te gebruik).
Die tweede grootste rede was fondse se versuim om rekeninge te betaal.
Die verslag toon mense het minder hospitaal toe gegaan, tog het mediese fondse meer opgedok vir hospitaalbesoeke.
Dr. Monwabisi Gantsho, registrateur van die RMS, het gesê die enigste verklaring hiervoor is dat private hospitale se tariewe gestyg het.
Die verslag toon 37% van voordele wat uitbetaal is, was aan private hospitale, gevolg deur 22% aan mediese spesialiste.
“Ons reguleer die fondse en die Raad op Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika reguleer (die etiese gedrag van) spesialiste.
“Op die oomblik word private hospitale deur geen statutêre liggaam gereguleer nie.”
Gantsho het gesê die RMS ondersteun die regering se plan om ’n pryskomitee vir mediese tariewe tot stand te bring.
Volgens hom huiwer private hospitale om met fondse saam te werk vir beter tariewe omdat hulle nie die Wet op Mededinging wil oortree nie.
“Hulle beskou dit as prysvasstelling, ons as gesprekke om toegang tot bekostigbare gesondheidsorg te bewerkstellig.”
Luidens die verslag het mediese fondse ’n beter jaar gehad as in 2009-2010.
Tog is kleiner fondse steeds besig om van die toneel te verdwyn weens likwidasies en konsolidasie. In 2000 was daar 144 mediese fondse. Net 99 is oor en Gantsho voorspel dat net ’n paar groot fondse sal oorbly.
Die totale getal lede en afhanklikes het toegeneem van 6,7 miljoen in 2000 tot die huidige sowat 8,3 miljoen.
Lede het 13,7% meer opgedok vir premies, maar besteding aan gesondheidsorg het net 11% gestyg tot R84,7 miljard.
Nie-mediese besteding het per lid per maand met 3,1% gestyg.
Volgens Thulani Matsebula, hoof van navorsing en monitering by die RMS, was 2009-2010 ’n slegte jaar waarin vyf groot fondse reuse-verliese gely het.
In 2010-2011 het vyf fondse ’n bedryfsoorskot van R1 miljard getoon. Talle kleiner fondse het egter bedryfsverliese gely.
Hoofsorge
- Voorgeskrewe minimum voordele, verpligte medisynelyste en diensverskaffers (1 749) Onbetaalde rek eninge (1 230)
- Fonds weier goedkeuring, bv. vir hospitalisasie (272)
- Administratiewe ondoeltreffendheid (261)
- Terugskryf van betalings of betaling skiet tekort (228)
- Staak lidmaatskap (163)
- Misverstand met fonds (131)
- Weier terugbetaling (127)
- Aftrekkings sonder toestemming (92)
- Uitsluiting van ’n toestand of voordele (87)
– Volg Nuus24 op
Twitter
- Beeld