Klagte ná vrou ‘vinger wys’
2010-09-15 07:45
Pretoria - In sý kultuur mag ’n vrou nie haar vinger vir ’n man wys nie omdat dit op ’n gebrek aan respek en onderdanigheid dui.
Dié gebrek aan respek het hy ook nie van ’n vrouesersant-majoor geduld nie en haar gevolglik van weerspannigheid laat aankla.
Hy het boonop ses maande ná dié voorval eers onthou dat sy die k-woord teenoor hom gebruik het.
Dít is hoe lt. Putuma Sowazi, ’n personeeloffisier by die weermag se menslikehulpbronne-afdeling in die Bank of Lisbon-gebou in Pretoria, Dinsdag in die militêre hof in Wonderboom getuig het.
Hy het drie klagte teen ao1. Marietjie White (55), sy hoofpersoneelklerk, aanhangig gemaak.
Die saak kom egter nadat die raad van ondersoek na die voorval reeds bevind het dat Sowazi verkeerd was. Die raad het bevind dat hy vir heropleiding van minstens 12 maande moet gaan sodat hy homself van die weermag se verlof- en personeelsake kan vergewis.
Sowazi het drie verklarings oor die dispuut tussen hom en White ingedien. Hy het eers ses maande ná die oorspronklike voorval ’n derde verklaring afgelê waarin hy vir die eerste keer beweer sy het hom ’n “swart k—r” genoem. Dít is ook nie tydens die raad van ondersoek genoem nie.
Sowazi het gister getuig White het soos ’n besetene op hom geskree en haar vinger vir hom gewys.
Dít was nadat Sowazi, wat meen hy het niks verkeerds gedoen nie, homself in Januarie vanjaar op afgedeelde diens in Port Elizabeth laat plaas het sodat hy sy kind dokter toe kon neem.
In dié tyd het hy ’n week lank vir drie maaltye per dag sowel as reisgeld soontoe van die weermag geëis.
Toe White hom met sy terugkeer daarop gewys het dat hy vir só ’n situasie familieverlof moet neem, het ’n rusie ontstaan.
’n Soldaat word met afgedeelde diens tydelik vir werk na ’n ander eenheid oorgeplaas, waar hy op verblyf en etes sowel as ’n dagtoelae geregtig is.
Sowazi het gister gesê dié beleid is nie reg nie en dat sý vertolking die regte een is.
“Waarom anders het my seniors dit goedgekeur? Dis ook nie net ek wat dit só doen nie – daar is baie ander ook. As dit verkeerd was, moes dit afgekeur gewees het en die geld van my salaris verhaal gewees het.”
Sowazi het getuig hy was 21 jaar lank ’n troep voordat hy skielik ’n sersant en kort daarna ’n luitenant geword het. Hy was ook in die Transkeise weermag.
Hy meen as troep het hy 21 jaar lank die verlofbeleid bestudeer totdat hy dit op die punte van sy vingers geken het.
Die militêre regter, lt.kol. Mpho Motlogelwa, het Sowazi gister telkens vermaan om lt.kol. Morné Botha (namens White) nie heeltyd in die rede te val nie.
Volgens Botha is dit juis dié halsstarrigheid van hom om te maak nes hy wil wat almal in sy afdeling ontstig het.
- Die Burger