Klagte kom ná jongste tronk-moles
2013-01-19 09:40
Johannesburg – Die departement van korrektiewe dienste in die Oos-Kaap sal klagte teen verhoorafwagtendes lê wat by die St Albans-gevangenis in Port Elizabeth betrokke was in 'n bakleiery, het RSG Saterdagoggend berig.
Twee mense is dood en 65 beseer in 'n groot bakleiery Vrydag by dié gevangenis.
"Twee verhoorafwagtendes is dood, en 17 is na 'n hospitaal geneem vir observasie," het Nkosinati Breakfast, streekskommissaris, gesê.
Die bakleiery het laatmiddag uitgebreek. Die onderonsie het in ses selle, elk met sowat 38 gevangenes in, begin.
Altesaam 2 083 verhoorafwagtendes word in die fasiliteit aangehou.
"Ons het nog nie vasgestel wat die oorsaak van die bakleiery was nie, maar ons weet dit is begin deur die 28-bende," het Breakfast aan die nuusagentskap AFP gesê.
Die 28-bende is een van die gevaarlikste bendes in Suid-Afrika se tronke.
Slotte, skerp voorwerpe en besemstokke is in die bakleiery gebruik.
Die bakleiery was egter nie net 'n konfrontasie tussen bendes nie, omdat almal in die selle daaraan deelgeneem het, het Breakfast gesê.
"Hulle het sommer almal in die sel aangerand, of jy 'n bendelid is of nie, en ongeag of jy van 'n ander bende is.... Ander mense het hulleself probeer verdedig," het hy gesê.
– Lees hier meer.
– Volg Nuus24 op Twitter.