Klagte ingedien na Simelane-aanstelling
2009-11-30 16:23
Johannesburg – ‘n Senior advokaat het ‘n klagte by die Pretoriase balieraad ingehandig nadat adv. Menzi Simelane as die nuwe direkteur van openbare vervolgings aangestel is.
“Ek vra die balieraad om die etiese en onetiese aspekte te oorweeg en ‘n besluit te maak,” het Pat Ellis, sameroeper van die professionele en etiekkomitee, gesê.
“Die klagtes is baie ernstig. Dit moet baie ernstig opgeneem word as ‘n advokaat ‘n hof mislei voor wie hy verskyn.”
Sedert president Jacob Zuma vir Simelane in sy nuwe pos aangestel het is hy oorval met kritiek vanaf opposisiepartye en akademici.
Die ontevredenheid kom nadat dit op die lappe gekom het dat Simelane glo “ingemeng het met die onafhanklikheid van die nasionale vervolgingsgesag (NVG)”.
Die Ginwala-ondersoek het getoon dat Simelane in sy vorige pos as direkteur-generaal ’n brief geskryf het vir sy minister oor die saak van die vorige polisiehoof Jackie Selebi.
–Sapa