Klag van haatspraak oor Jansen
2009-10-27 13:49
Johannesburg – Die DA het Dinsdag ‘n klag van haatspraak teen Thebe Meeko, die voorsitter van die ANC-jeugliga in die Vrystaat gelê. Dit kom na Meeko se uitlatings wat hy glo oor Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, gemaak het.
Die klag is by die Kaapstadse Landdroshof gelê nadat die koerant, The Times, berig het dat Meeko gesê het Jansen moet “doodgeskiet word omdat hy ‘n rassis is”.
Meeko se uitlatings kom nadat Jansen verlede week tonge los gehad het toe hy aangekondig het dat die universiteit hul klagtes teen die sogenaamde Reitz-4 laat vaar het.
"Dit is sulke skokkende stellings. Ons moet optree wanneer iemand vra dat iemand anders doodgemaak word," het Wilmot James van die DA gesê.
Floyd Shivambu, woordvoerder vir die ANC-jeugliga, het gesê dié uitspraak vra nie dat Jansens geskiet word nie maar dat rassisme geskiet word.
"Hy het nie bedoel dat ‘n persoon doodgemaak moet word nie. Hy het na rassisme verwys,” het Shivambu gesê.
- Sapa