Klag by polisie ná jeugliga se makietie
2010-11-06 09:03
Kaapstad - 'n Klag van saakbeskadiging tydens die ANC-jeugliga se viering van sy 66ste bestaansjaar is by die Cloetesville-polisiekantoor ingedien en word ondersoek.
Dít nadat daar verlede naweek ná afloop van die jeugliga se saamtrek op die Cloetesville-sportterrein glo skade aan openbare eiendom aangerig is.
Mika Mahlaule, ANC-koördineerder in die Boland, het gister gesê hulle het nog nie formeel sulke klagtes ontvang nie.
Helmar Geyer, die DA se kiesafdelingshoof vir Stellenbosch, het gister in ’n verklaring gesê busse wat afgevaardigdes van die jeugliga na die saamtrek vervoer het, is langs die Cloetesville openbare swembad geparkeer.
Omstanders het glo ná die saamtrek ’n volgelaaide bus onder klippe gesteek.
Die busdiens het die klag by die polisie ingedien.
Geyer het gesê die paaltjies in die parkeerterrein is ook beskadig en uit die grond geruk.
Volgens hom het die Stellenbosch-munisipaliteit die skade op sowat R1 700 geraam.
Na bewering het mense die busse met klippe bestook omdat hulle kospakkies belowe is, maar nie ontvang het nie, het Geyer gesê.
Mahlaule het nie dié oproerigheid ontken nie.
“Ons het almal genooi, so daar is ’n moontlikheid dat mense wat die verrigtinge ontwrig het, nie ANC-lede was nie.”
Volgens hom is geen kospakkies belowe nie.
Geyer het voorts gesê geldprobleme het glo ook tydens die jeugliga se geldinsamelingsete in Franschhoek opgeduik toe die restaurant geweier het om etes te bedien voordat die deposito vir die geselligheid betaal is.
Luidens die verklaring het een van die jeugliga se borge, wat ’n gas was, glo meer as R 50 000 uit sy eie sak gehaal om die kostes van die aand te dek.
“Die ANC hét betaal. Ons het bewyse.”
Toe Mahlaule gevra is na die gas wat vir die skuld moes opdok, het hy gesê: “Dit maak nie saak hoe ons betaal het nie. Feit is ons hét betaal.”
Geyer het dit as ’n verleentheid en nóg ’n swart kol op Julius Malema, ANC-jeugliga-leier, se rekord van betaalbeloftes bestempel.
Die jeugliga kon nie gister vir kommentaar bereik word nie.
Malema het by dieselfde saamtrek waar hy ’n verhoog met pres. Jacob Zuma gedeel het, na Helen Zille, Wes-Kaapse premier, as ’n kakkerlak verwys.
- Die Burger