Kinderverkragtings in Limpopo skok
2012-12-31 15:08
Johannesburg – Twee meisies, van onderskeidelik drie en sewe jaar oud, is onder ses jong meisies wat oor die naweek in Limpopo verkrag is, het die polisie Maandag gesê.
Drie mans, insluitend 'n soldaat, is in verband met die voorvalle in hegtenis geneem, het brig. Hangwani Mulaudzi gesê.
Die driejarige is Sondag na bewering deur 'n buurman in Letsitele verkrag. Haar ma het die man by 'n nabygeleë rivier op heterdaad betrap.
'n Pa in Maake het sy sewejarige dogter verkrag. Albei mans is in hegtenis geneem.
'n 22-jarige weermaglid is Maandag ook by Malale in hegtenis geneem ná die verkragting van 'n 14-jarige meisie in Tshamutumbu.
"Die verdagte, wat in Madimbo woon, het die slagoffer na bewering maande lank gemolesteer. Die slagoffer se ma het daarvan te hore gekom, en sy het dit vandag [Maandag] by die polisie gerapporteer."
'n 16-jarige meisie is ontvoer en deur 'n bende in Maake verkrag.
Intussen is 'n 13-jarige meisie van Vila Nora, ongeveer 40 km wes van Lephalale, ontvoer en twee dae lank herhaaldelik verkrag. 'n 17-jarige meisie van Vila Nora is ook Saterdag om 02:00 verkrag terwyl sy van 'n taverne op pad huis toe was.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA