Kindersterftes neem toe
2011-09-20 13:30
Johannesburg – Die aantal Suid-Afrikaanse kinders wat jaarliks weens voorkombare siektes sterf, is besig om toe te neem.
The New Age berig dat die land, volgens die jongste vorderingsverslag oor die millennium-ontwikkelingsdoelwitte (MDG’s), ver van sy doelwit is om kindersterftes teen 2015 met twee derdes te verminder.
Volgens dié verslag is Suid-Afrika een van 12 lande in die wêreld waar die sterftesyfer van kinders onder die ouderdom van vyf toeneem.
"Dit is onaanvaarbaar. Ons het maatreëls in plek gestel om die uitdaging die hoof te bied," het Fidel Hadebe, woordvoerder van Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, gesê.
"Dít sluit die ontplooiïng van 'n span mediese spesialiste in elke distrik in die land in."
Statistieke toon 75 000 kinders onder die ouderdom van vyf sterf jaarliks in Suid-Afrika. 23 000 van dié kinders sterf in die eerste vier weke ná geboorte.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA