Kinderstemme uit pype noop polisie-ondersoek
2011-01-25 23:00
Kaapstad - Die polisie het stormwaterpype in Manenberg, Kaapstad, deursoek nadat lede van die gemeenskap kinderstemme uit die pype hoor opklink het.
“Gister (Maandag) was daar nege kinders wat in die stormwaterpype gespeel het en die brandweerdepartement is uitgeroep na Manenberg,” het ao. Llewellyn Lackay, polisiewoordvoerder, gesê.
“Die gemeenskap het vanoggend (Dinsdag) gesê hulle het kinders se stemme uit die pype hoor kom. Ons het die pype deursoek, maar geen kinders is gevind nie. Ons kan nie bevestig dat daar kinders is nie,” het hy gesê.
Die gemeenskap het die polisie later Dinsdag weer gekontak en gesê hulle hoor steeds kinderstemme by die pype.
Hulle het gesê hulle het ‘n 14-jarige seun en ‘n meisie uit die pype sien klim. Die tieners het toe gesê hulle het daar weggekruip nadat hulle uit die jeugrehabilitasiesentrum Boys Town ontsnap het.
“Hierdie storie klop egter nie, aangesien daar geen meisies in Boys Town is nie,” het hy gesê.
Die polisie sou die saak verder ondersoek.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA