Kinders vind baba se lyk
2010-10-25 12:19
Bloemfontein – ‘n Pasgebore baba se lyk is deur ‘n groep kinders in ‘n stormwaterdrein naby Odendaalsrus gevind, het polisie in die Vrystaat Maandag gesê.
Volgens woordvoerder sers. Puleng Motsoeneng het vier seuns in ‘n oop veld gespeel, toe hulle Saterdagoggend op die lyk afgekom het.
Hulle het vir ‘n ouer vrou, wat naby hulle verbygeloop het, van hul bevinding vertel.
Die vrou het die seuns glo van die toneel weggeneem en die polisie gekontak. Die baba se naelstring was steeds aangeheg.
Niemand is nog in verband met die saak in hegtenis geneem nie.
Polisie in Odendaalsrus het plaaslike inwoners aangemoedig om hulle te help om die ma op te spoor.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA