'Kinders moet leer hoe om kondome te hanteer'
2011-06-09 08:32
Durban - Seksvoorligting op skool veroorsaak nie dat kinders meer seks het nie.
Dié programme behoort trouens praktiese klasse in te sluit waar kinders deur middel van rolspel oefen om seks te weier en hoe om kondome te hanteer.
Só het kenners Woensdag op die vyfde Suid-Afrikaanse Vigskonferensie hier gesê.
Seksvoorligting op skole is die afgelope tyd ’n omstrede kwessie met vigsaktiviste wat druk vir kondoomverspreiding en oop gesprekke oor seks, wetgewing wat van kinderseks ’n misdaad maak en konserwatiewe ouers en onderwysers wat vrees dit sal eksperimentering aanmoedig.
Dr. Douglas Kirby, internasionale seksvoorligtingkenner, het in ’n sessie oor die regering se planne om seksvoorligting, insluitend MIV-bewusmaking, ’n verpligte deel te maak van skoolleerplanne, studiedata getoon van suksesvolle seksvoorligtingprogramme.
Minstens 6 van 22 programme met bevindings oor wanneer kinders in ontwikkelende lande begin om seks te hê, het daartoe gelei dat kinders seks uitstel totdat hulle ouer is.
Altesame 16 programme het weliswaar geen impak gehad nie, maar daar was nie een program waarvan die deelnemers vroeër met seks begin het nie.
Vyf van 13 studies met bevindings oor bedmaats het getoon die deelnemers het minder bedmaats gehad, agt het geen impak gehad nie, maar geen studies het die kinders meer laat rondslaap nie.
“Die bewyse is deurlopend sterk dat die voorvoorligtingsprogramme geensins daartoe lei dat kinders meer seks het nie,” het Kirby gesê.
Skole is die enigste instansies wat Suid-Afrikaanse kinders kan bereik voordat hulle seksueel-aktief word, het hy gesê.
Navorsing wys programme wat misluk, is dié waar seksuele gedrag hoegenaamd nie bespreek word nie, wat net fokus daarop om kinders inligting te gee, geen duidelike boodskappe bevat oor seksuele gedrag nie en geen deelname, soos rolspel, van die kinders vereis nie.
Baie goeie programme is ook nie in werking gestel nie.
Suksesvolle programme het rolspel gebruik sodat kinders vaardighede, soos om seks te weier of op kondome aan te dring, kon oefen.
Dit sluit rolspel in waar kinders oefen om kondome korrek te hanteer.
“Dit is ook goed as hulle weet waar veilige plekke is om kondome in die hande te kry,” het Kirby gesê.
Die suksesvolle programme was nie moralisties oor seks nie, maar het duidelike boodskappe gegee, byvoorbeeld dat kinders “altyd onveilige seks moet vermy”.
- Volksblad