Kinders in kar: Ouma en oupa sien om
2011-12-10 11:04
Johannesburg – Die twee kinders wat uit ’n BMW in ’n parkeerterrein van ’n winkelsentrum in Vereeniging gered is, is in die sorg van hul oupa en ouma geplaas.
Hul ma sal volgens kapt. Shado Mashobane van die Vereeniging-polisie die naweek agter tralies deurbring. Sy sal Maandag in die hof verskyn.
Dié 34-jarige ma het Donderdag saam met twee groter kinders by die winkelsentrum gaan inkopies doen en haar tweejarige en ses maande oue kinders in haar swart BMW gelos.
Die vrou staan tereg op aanklagte van kinderverwaarlosing, aanranding en verset teen inhegtenisneming.
’n Motorwag het aan ’n motoris wat daar naby geparkeer het, gesê die kinders was tóé al 20 minute lank in die motor.
Die motoris het die polisie ontbied.
Die kinders was langer as ’n halfuur in die motor.
Paramedici het die venster van die BMW gebreek en die erg ontwaterde kinders uit die motor gehaal en na ’n hospitaal geneem.
Die baba het nie gereageer nie, terwyl die ouer kind verskriklik gehuil het.
Albei was papnat gesweet.
Die vrou het ’n polisiebeampte met die vuis bygedam terwyl sy in hegtenis geneem is.
Sy het glo op die motorwag geskreeu en gesê dat die motorwag die kinders moes oppas.
Die ouer kinders was glo histeries toe die vrou die polisieman begin aanrand.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld