Kinderporno-verhoor begin in Pretoria
2011-12-01 10:00
Pretoria – Die verhoor van nege mense wat teregstaan op aanklagte wat verband hou met kinderpornografie, begin Donderdag in die Pretoria-Noord-streekhof.
Die vier egpare en die ongetroude seun van een van die paartjies staan tereg op meer as 100 aanklagte wat verband hou met die Wet op Seksuele Oortredings.
Die beskuldigdes staan tereg op onder meer aanklagte van verkragting, onsedelike aanranding, die seksuele gereedmaking van minderjarige kinders, asook die vervaardiging, besit van en verspreiding van kinderpornografie.
Agt van die beskuldigdes is verlede jaar in hegtenis geneem. Hulle is 'n oupa (58), 'n ouma (57) en hul twee seuns uit vorige huwelike (34 en 36), die oupa se broer (61), sy vrou (42) en hul seun wat vermoedelik verstandelik gestremd is.
Die 26-jarige vrou van een van die seuns is ook in hegtenis geneem.
Die negende persoon, 'n 31-jarige vrou, wat die vrou van beskuldigde nommer agt is, is in Januarie vanjaar naby Hammanskraal in hegtenis geneem.
Ses kinders is glo in seksfilms gebruik wat later versprei is.
Vier ander kinders is uit die sorg van die beskuldigdes verwyder en vir sielkundige en mediese ondersoeke gestuur.
Agt lede van die familie is vroeër vandeesmaand elk op borgtog van R15 000 vrygelaat.
'n Landdros in Pretoria-Noord het sowat 'n jaar gelede borgtog geweier en 'n appèlaansoek is by die Pretoriase hooggeregshof ingedien.
Die oupa, wat glo een van die sleutelfigure in die kinderpornografie-sindikaat is, het vroeër sy aansoek om borgtog laat vaar en is steeds in aanhouding.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA