Kinderporno-saak: Seuntjie wil jammer sê
2011-03-24 15:12
Pretoria - ‘n Tienjarige seuntjie wat gedwing is om seks met sy niggies te hê, wil om verskoning van een van hulle vra vir die “slegte dinge” wat hy aan haar moes doen, is daar Donderdag in die landdroshof in Pretoria-Noord gehoor.
Dié inligting is bekend gemaak toe Tonya Louwrens, die ondersoekbeampte, getuienis moes lewer tydens die borgtogverhoor van die seuntjie se 32-jarige ma.
Die vrou is een van nege wat aangekla is van kinderpornografie en nog verwante aanklagtes.
Louwrens het gesê dat sy menigte oproepe van die kind se huidige pleegma ontvang het.
“Bob (nie die seun se regte naam nie) wou net sê dat hy jammer is oor wat hy aan haar gedoen het. Hy praat baie daaroor,” het Louwrens gesê.
Die borgtogaansoek is aan landdros Pierre Wessels gerig.
Die vrou is glo getroud met een van die ander beskuldigdes en is naby Hammanskraal in Januarie in hegtenis geneem.
Die groep van nege is aangekla vir verkragting, onsedelike aanranding en verskeie ander aanklagte.
Die ander beskuldigdes sluit in ‘n oupa (58), ouma (57), hulle twee seuns van vorige verhoudings (onderskeidelik 34 en 36), die oupa se broer (61), sy vrou (42) en hulle seun wat glo verstandelik gestrem is.
Die 26-jarige vrou van een van die seuns is ook in hegtenis geneem.
Ses kinders wat vier jaar of ouer is, is glo in seksfilms gebruik wat glo verder versprei is.
Vier van die kinders is verwyder uit die sorg van die beskuldigdes en is vir sielkundige en mediese toetse gestuur.
Louwrens het in die hof gesê sedert die kinders weggeneem is, was hulle nog nie weer bymekaar nie en kon hulle glad nie hulle stories oor die mishandeling aanpas om bymekaar s’n te pas nie.
Tydens die borgtogaansoeke in Januarie het die hof gehoor dat die staat van plan is om die moontlikheid van ‘n kinderpornografie-sindikaat te ondersoek.
Die agt ander beskuldigdes gaan op 6 April in Pretoria-Noord in die landdroshof verskyn wanneer die besluit gemaak sal word oor of die saak na die streekshof verwys sal word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA