Kinderporno-hel
2010-12-05 07:48
Rapport
Die ma van een van die kinders wat glo deur ’n kinderpornografie-sindikaat in bloedskandelike orgies verfilm is, glo 100% in haar volwasse familielede se onskuld.
“My mense is onskuldig! Daar is niks bewyse teen hulle nie,” het die ma gister uitgeroep.
Ses kinders in die ouderdomsgroep van 4 tot 15 jaar is glo deur hul familielede misbruik as akteurs in seksvideo’s, wat dan versprei is.
Agt familielede is Donderdag in ’n klopjag deur die polisie en die departement van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling in hegtenis geneem op ’n kleinhoewe in Lusthof, noord van Pretoria.
“Hulle het beter omgesien na hul honde as na hul kinders,” het Elize Bezuidenhout, woordvoerder van ’n plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, aan Rapport gesê ná haar besoeke aan die perseel.
Rapport het die ma opgespoor op die kleinhoewe waar die beweerde misdade plaasgevind het.
Die polisie vermoed die volwassenes – soos die oupa – het met die kinders seks gehad en dat die kinders ook gedwing is om seks met mekaar te hê.
Al die kinders is na verskillende plekke van veiligheid geneem.
Die vrou is die enigste inwoner van die deursoekte persele wat nié in hegtenis geneem is nie.
Sy het Vrydag by die plek van veiligheid opgedaag, maar is weggewys nadat sy glo haar seun se pleegouers probeer intimideer het.
“Ons het niks om weg te steek nie,” het sy agter die kleinhoewe se geslote hek gesê.
Sy wou nie haar naam verskaf nie.
“Gaan vra maar vir die CMR (Christelike Maatskaplike Raad) wie ek is. (Ander joernaliste) het in my huis gekom sonder toestemming. Ek gaan hulle hof toe vat.”
Vanaf die pad lyk die perseel na ’n gesinswoning met ’n kleurvolle klimraam en swaai.
Maar die huis is ’n krot wat krioel van kokkerotte en maaiers, met die reuk van urine en ontlasting wat hang.
Dit was vermoedelik die “ateljee” vir die orgies waar een meisie glo deur haar oupa én ander familielede verkrag is.
’n Saag hang bo die stoof en teddiebere wat verklaar “I love you this much” is teen die mure vasgespyker rondom ’n troufoto van die oupa en ouma.
In nog ’n wending het plaaswerkers te kenne gegee dat die oupa ’n huiswerker by vorige geleenthede drank aangebied het vir seks.
Agt familielede sal Maandag in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn op aanklagte van onder meer die besit, vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie.
Hulle is die oupa (58) en ouma (57), hul seuns (onderskeidelik 34 en 36), die oupa se broer (61), sy vrou (42) en hul verstandelik gestremde seun (28) sowel as die 26-jarige vrou van een van die seuns.
Die familielede het almal hul beroepe aangedui as tuisteskeppers en boere.
Met Rapport se besoek aan die kleinhoewe was daar varke, eende, ganse, sowat 15 honde en verskeie katte op die perseel.
Lt.kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê hulle glo die polisie het ’n “reuse-deurbraak in ’n sindikaat” gemaak.
Volgens hom is die kinders wat weggeneem is wél te sien in die pornografiese materiaal waarop beslag gelê is.
Verskeie polisielede het Saterdagaand nog DVD’s en foto’s waarop beslag gelê is, gefynkam.
Rapport verneem hulle het reeds op foto’s afgekom waarin die kinders glo verskyn.
Die polisie het ook op rekenaars beslag gelê, maar geen kameras of videokameras gevind nie.
’n Polisiebron sê hulle is op soek na ’n spesifieke verdagte wat glo die kamerawerk gedoen het.
Dlamini het gesê hulle verwag nog verskeie arrestasies namate die ondersoek na die verspreidingskanale van die “sindikaat” vorder.
Twee weeskinders in die sorg van die beweerde kinderpornografie-sindikaat het die bloedstollende onthullings gemaak wat tot hul pleegouers se inhegtenisneming gelei het.
’n Bron na aan die ondersoek het aan Rapport gesê die oupa en ouma van die familie was selfs in ’n stadium besig met die stappe om dié kinders aan te neem.
Dié kinders, ’n sesjarige seun en agtjarige meisie, was sedert hulle babas was in die sorg van die familie.
Mandla Sidu, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling, kon nie aan Rapport antwoorde verskaf oor waarom die kinders in die eerste plek in sulke haglike omstandighede geplaas is nie.
“Ons kon nog nie met die betrokke maatskaplike werkers praat nie.”
Maatskaplike werkers het eers vanjaar besef alles is nie pluis nie toe die pleegkinders swak begin vaar het op skool. Die Christelike Maatskaplike Raad het die kinders in Junie verwyder, waarna hulle begin praat het oor die skrikwekkende omstandighede waaruit hulle verlos is.
Maar die biologiese kinders wat in Donderdag se klopjag van hul ouers weggeneem is, was erg getraumatiseer deur die skeiding van hul ouers.
Surika van Schalkwyk, woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand, het die polisie gehelp deur op die toneel na die kinders om te sien en hulle na veilige plekke te neem.
Twee van die kinders was in die bed saam met die oupa en ouma toe die polisie toegeslaan het.
’n Seun (9), wat aanvanklik heen en weer gewieg en gebid het, het later gedreig om selfmoord te pleeg as hy van sy ouers weggeneem word.
“Hy het gesê as ons hom daar wegvat, sal hy uit die kar spring en hy gee nie om as ons oor hom ry nie.”
Van die ander kinders het net saggies gehuil en voor hulle uitgestaar, sê Van Schalkwyk.
Die polisie sal eers Sondag vandag die kinders begin ondervra.
Van Schalkwyk sê hulle sal ook nou, deur hul misdaad-noodfonds, sorg dat die kinders deurlopende berading en bystand kry.
Enigiemand wat bydraes tot die fonds wil maak of hul professionele dienste wil aanbied, kan e-pos stuur na diens@helpendehand.co.za.
- Rapport