Kinderporno: ‘Jy hoef nie te lag’
2010-12-15 08:15
Beeld
Johannesburg - Hul handjies en mondjies het moeg geword van die seksdade waarby hulle betrek is.
So het ’n sesjarige seuntjie en agtjarige meisietjie wat glo slagoffers was in die opspraakwekkende kinderpornografiesaak in Pretoria in afsonderlike verklarings aan die polisie gesê nadat hulle in Junie uit hul pleegouers se sorg verwyder is.
Die aanklaer, adv. Tania Carstens, het dié getuienis gister in die Pretoria-Noord-landdroshof voorgehou waar die borgtogaansoek van die agt beskuldigdes, wat almal aan mekaar verwant is, voortgesit is.
Een van die beskuldigdes, ’n 58-jarige man, is Dinsdag uitgevra en ’n dokter het getuig oor die molestering en verkragting van die agtjarige meisie wat in sy en sy vrou (57) se pleegsorg was.
Oor bewerings van Carstens dat die kinders met die mans se geslagsorgane moes speel, het dié beskuldigde getuig “dit sal nooit in my huis gebeur nie.”
Die agt, wat om regsredes nie geïdentifiseer mag word nie, word aangekla van die vervaardiging en besit van kinderpornografie, verkragting, seksuele aanranding en seksuele aanvoorwerk (grooming) en die pleeg van seksuele dade voor kinders.
Carstens het dit aan dié 58- jarige man gestel dat albei die kinders wat uit sy en sy vrou se pleegsorg geneem is na verskillende plekke van veiligheid geneem is. “Hoekom sal hul verklarings dan so ooreenstem as hulle dan nie die waarheid praat nie?” wou sy van dié beskuldigde weet.
Die man het skouerophalend geantwoord dat hy nie weet nie.
Dr. Jan Abraham Zeilinger, ’n dokter wat die meisie in 2006 ondersoek het, het getuig dat hy destyds opgemerk het haar geslagsorgane is rooi van moontlike vorige beserings aan haar vagina.
Zeilinger, destyds ’n distriksgeneesheer, is deur die verdediging gedagvaar om te getuig.
“Die beserings was redelik onlangs en dit vat nie weke of maande om gesond te word nie.
“Sy was nie geestelik versteurd nie, maar het eerder ’n emosionele versteuring gehad, soos wat kinders kry wat seksueel gemolesteer is.” Die man se vrou het die meisie destyds na Zeilinger toe geneem.
Die meisie is in 2004 deur die Christelike Maatskaplike Raad in dié egpaar se sorg geplaas.
Die man het later in kruisondervraging sy vorige getuienis herhaal dat die meisie skerp voorwerpe en speelgoed in haarself opgedruk het terwyl sy gebad het. Hy het gesê dit kon destyds die rede gewees het vir die beserings aan haar geslagsdele.
Landdros Pierre Wessels het een van die beskuldigdes aangespreek omdat hy tydens Zeilinger se getuienis gelag het.
“Beskuldigde vyf, jy hoef nie te lag daaroor nie. Dit is nie snaaks nie. Dit is ernstige aantygings wat hier gemaak word.”
“Ek dink ook nie dis snaaks nie,” het dié beskuldigde (die 58-jarige man se 61-jarige broer) Wessels geantwoord.
Die verrigtinge is uitgestel.

Vyf van die agt aangeklaagdes in die Pretoria-kinderpornografiesaak sit gister voor die hervatting van hul borgtogaansoeke in die beskuldigdebank in die Pretoria-Noord-landdroshof.
Foto: Alet Pretorius
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld