Kinderhuis-brand skok minister
2010-02-10 04:46
Durban - Medelye stroom in vir die 15 mense, waaronder ten minste agt kinders, wat Dinsdag in 'n kinderhuis buite Newcastle, KwaZulu-Natal doodgebrand het.
Noluthando Mayende-Sibiya, minister van vroue, kinders en gestremdes en die KwaZulu-Natalse provinsiale regering, het hul skok oor die nuus van die brand by die Hope in Christ Home uitgespreek.
"Dit is 'n nasionale tragedie en my hart gaan uit aan die familie van die wat op die tragiese wyse gesterf het.
Volgens polisieverslae is 15 mense, insluitend die vrou in beheer van die kinderhuis en haar vier kinders, dood. Nege kinders is gehospitaliseer.
Twee voertuie buite die gebou is ook verwoes.
Supt. Jay Naicker, 'n polisiewoordvoerder, het gesê ondersoekbeamptes van Pretoria is op pad na die toneel om die oorsaak van die brand vas te stel.
Dr. Zweli Mkhize, premier van KwaZulu-Natal, het gesê daar word vermoed dat die brand deur 'n gasontploffing of 'n elektriese fout veroorsaak is.
"Ons is geskok en hartseer dat so baie mense, baie van hulle kinders, in sulke grusame omstandighede moes sterf... ons wil ons medelye aan die familes betuig."
– Sapa