Kind wat aanrand uit skool geskors
2011-08-28 11:00
Pretoria – ’n Gr. 8-leerling wat in ’n selfoonvideo gesien kan word waar hy ’n medeleerling teen die kop skop, is die afgelope week uit sy skool geskors.
Dit is gedoen op aanbeveling van die tugkomitee van die Hoërskool Carletonville se beheerliggaam en moet nog deur die Gauteng-onderwysdepartement bekragtig word.
’n Betroubare bron het gesê die wreedheid van die aanval was die rede vir die leerling se skorsing.
Die beheerliggaam gaan voort met ’n ondersoek na die voorval waarin Arno Swanepoel, ook ’n gr. 8-leerling, aangeval is.
Hy is verskeie kere teen die kop en in die ribbes geskop terwyl hy op die grond gelê het.
Minstens een leerling het die voorval verfilm en in die video kan gesien word hoe verskeie leerlinge toekyk terwyl Arno aangeval word.
Die skool het ’n reël dat leerlinge as aanhitsers beskou word as hulle nie van ’n bakleiery wegstap nie.
Die geskorste leerling het Donderdag in die hof verskyn op ’n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Die verhoor is tot 20 September uitgestel.
Dieselfde aanklag teen die leerling wat die video geneem en die leerling wat die aanvaller van Arno afgetrek het, is teruggetrek.
Die voorval het die afgelope week kommentaar ontlok op die Facebook-blad van “Awb Carletonville”.
Wit leerlinge word hier skerp gekritiseer omdat hulle ’n swart kind toegelaat het om ’n wit kind aan te rand.
Arno het ook verlede naweek ’n vriend van die groep geword, maar Zani Swanepoel, sy ma, het Vrydag aan Rapport gesê hy besef nie waaroor die groep gaan nie.
Volgens haar het die groep Arno as vriend genooi.
Sy pa, Cornel, het Vrydag toegesien dat Arno die Facebook-vriendskap beëindig.
Swanepoel het verder gesê die bewering is onwaar dat Arno voordat hy aangerand is rassistiese uitlatings teenoor die swart leerling gemaak het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport