Kind pak drie met mes
2010-08-07 07:00
Beeld
’n 12-jarige weeskind het drie mans wat haar ouma en oupa aangeval het, verwoed met ’n kombuismes toegetakel en probeer om ’n verkragter van haar tannie af te trek.
Die meisie, wat by haar grootouers bly, is in die proses self erg beseer.
Die meisie en haar familie mag om veiligheidsredes en omdat die tannie verkrag is nie geïdentifiseer word nie.
Die aanvallers het eergisteraand laat met ’n vuurwapen en panga by die oupa en ouma se huis, waar ’n snoepwinkel bedryf word, ingebreek.
Die mans het geld geëis. Die bejaardes het gesmeek dat die aanvallers hulle en die kinders – die 12-jarige meisie, haar jonger boetie (4) en sussie (2) – nie moet beseer nie.
Die oupa is egter vasgebind en aangerand en die ouma is met ’n vuurwapen geslaan.
Die meisie het haar oupa uit ’n plas bloed gesleep en hom met ’n kombers toegemaak. Daarna het sy ’n kombuismes gegryp, die aanvallers bestorm en hulle toegetakel.
Sy is geklap en het ’n diep sny aan die hand opgedoen. Dit het haar egter nie gekeer nie en die aanvallers het haar ’n poeier ingegee wat haar aan die slaap gemaak het.
Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê intussen het die tannie (25) en haar vriend van Noordwes daar aangekom en hulle in die rowers vasgeloop.
Die man is met die panga aangeval en die vrou is na ’n kamer gedwing waar sy verkrag is.
Die meisie het wakker geword en haar tannie te hulp gesnel. Sy het met mag en mening probeer om die verkragter van haar tannie af te ruk.
Die aanvallers het met die grootouers se motor, sowat R1 000 kontant en selfone gevlug. Die motor is later die nag langs ’n skool in die woonbuurt Thabong gevind.
Die kinders en hul tannie was gister in ’n plek van veiligheid waar hulle traumaberading ontvang het. Die ouma en oupa is met veelvuldige beserings in die hospitaal opgeneem.
Die polisie het beslag gelê op die poeier wat die meisie ingegee is. Lucy, die enigste polisiehond in die Vrystaat wat gebruik word om liggaamsvloeistowwe uit te ruik, het semen uitgewys, wat tot verdere beslagleggings gelei het.
- Enigiemand met inligting wat die polisie kan help, word gevra op kapt. Elmarie van der Merwe by 082 301 3075 te bel.