Kind met hart buite bors gebore
2011-10-24 22:00
Johannesburg – ‘n Baba is Maandagoggend in Port Elizabeth gebore met die hart buite die bors, het die Oos-Kaapse departement van gesondheid gesê.
“Die 17-jarige ma van die kind het by die huis geboorte geskenk en is toe na die Dora Nzinga-hospitaal gehaas,” het Sizwe Kupelo, woordvoerder, gesê.
Die baba is op die oomblik in die intensiewe sorgeenheid. Dokters gaan probeer om Dinsdagoggend ‘n operasie uit te voer.
Kupelo kon nie sê wat die geslag van die baba is nie.
In ‘n soortgelyke geval is Ashleigh Louw verlede jaar op 9 Januarie gebore met haar hart buite haar bors. Die hart is slegs deur ‘n dun laag vel bedek. Dokters het later daardie maand op haar geopereer.
Sy is toe op 5 Maart in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg dood.
Die toestand verskyn slegs in een uit elke miljoen babas.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA