Kind glo potblou geslaan by spogkleuterskool
2012-06-04 07:30
Durban – 'n Kleuter is glo potblou geslaan by 'n spogkleuterskool in Scottsville, Pietermaritzburg, berig The Witness.
Die 15 maande oud kind se ma, 'n prokureur, het in Mei agtergekom haar kind word mishandel toe sy verskeie kneusplekke op haar kind se boude en bobene gesien het.
"Ek was geskok om die merke op my baba se lyf te sien," het die prokureur gesê.
"Ek het haar die aand tevore gebad en niks agtergekom nie. Ek kon aanvoel dat iets verkeerd is. Ek het my kind daardie oggend kleuterskool toe gevat en antwoorde geëis."
Met haar aankoms by Baby Steps-dagsorgsentrum is daar aan haar gesê die eienaar, Brenda Seery, is nie beskikbaar nie, maar sal haar so gou as moontlik kontak.
Seery het die ma 30 minute later gebel en gesê 'n werknemer het die kind geslaan.
'n Dokter het in 'n verklaring aan die polisie bevestig dat die kind met die hand of met 'n stok geslaan is.
'n Voormalige werknemer by die kleuterskool het aan die koerant gesê Seery en haar dogter, Tamlyn, klap of straf soms die kinders.
Bewerings word ook gemaak dat werknemers vrugtesout in die kinders se monde sit.
Die polisie het bevestig dat hulle die beweerde mishandeling ondersoek.
Seery het die aanranding van die kleuter bevestig, maar ander bewerings van mishandeling ontken.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA