Kind beland glo onder bakkie
2011-12-02 09:00
Fauresmith – Weghol-veldbrande in dié distrik het in ’n chaos ontaard toe boere honderdduisende rande se skade gely het en ’n 11-jarige kind in ’n fratsongeluk glo onder sy pa se bakkie beland het.
Sakkie en Linda Jansen van Vuuren van die plaas Lemoenkloof se 11-jarige seun, Johan, is sedert die naweek onder sterk verdowing in die intensiewesorgeenheid van die Mediclinic Bloemfontein.
Johan, ’n gr.6-leerling aan die Laerskool Jacobsdal, is ook aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel.
Hy het glo Sondag by minstens vyf veldbrande gehelp vuur slaan en toe glo in ’n fratsongeluk onder sy pa se bewegende bakkie beland.
By een van die brande het die wind glo gedraai en die brand van rigting laat verander. Johan het vermoedelik van die bakkie afgeval en daaronder beland terwyl dit agteruit gery het.
’n Boer, Nelius Booysen, het ook brandwonde aan sy gesig en hande opgedoen toe hy op die plaas Pylkop van Strauss Jacobs sr. vuur geslaan het.
Booysen sê: “Wat dié brande so erg gemaak het, was die erge wind wat heeltyd van rigting verander het. Die stormsterkte wind, partymaal tot 40 km/h, het gemaak dat boere nie met hul bakkies kon byhou nie.”
Johanna Nauhaus van die plaas Spitskop sê talle boere het groot skade gely. Dit sluit die verlies van vee, perde, drade en weiding in.
Strauss Jacobs jr., ’n lid van die Fauresmith-boerevereniging, sê die veldbrande is waarskynlik deur weerlig veroorsaak.
Volgens hom het derduisende hektare veld afgebrand.
Die omvang van die skade moet nog bepaal word.
Hy het namens die Fauresmith-boerevereniging sy dank uitgespreek teenoor die talle boere van omliggende distrikte wat die boere hier te hulp gesnel het. Boere van onder meer Koffiefontein, Petrusburg, Jagersfontein, Edenburg, Trompsburg en Philippolis het kom help. “Ons kan dié mense, wat soos een man saamgestaan en ons kom help het, nie genoeg bedank nie.”
Mnr. Jansen van Vuuren wou glad nie kommentaar lewer oor die ongeluk waarin sy seun beseer is nie. Amanda Appelgryn, woordvoerder van die Mediclinic Bloemfontein, wou ook op versoek van die familie geen inligting bekend maak nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad