Kind (9) seksueel by skool aangerand
2011-01-20 09:06
Bloemfontein - ’n Jong man wat na bewering tydens pouse by ’n Bloemfonteinse laerskool ingestap en ’n negejarige meisie seksueel aangerand het, het Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn.
Die 19-jarige man is Maandag deur die polisie buite ’n ander laerskool in hegtenis geneem.
Sy naam mag nie genoem word totdat hy gepleit het nie.
Nóg voorvalle, wat glo by ander laerskole in die stad plaasgevind het, word teen hom ondersoek.
Die voorval met die negejarige het na bewering verlede Vrydag by die Laerskool Fichardtpark plaasgevind.
Die vermeende seksuele oortreder het glo die meisie omstreeks 11:40 op die skoolterrein saam met drie van haar maats voorgekeer.
Hy het haar glo onder valse voorwendsels na ’n verlate deel van die skool gelok.
Hier het hy na bewering haar broekie afgetrek.
Die kind is na bewering betas en die jong man het glo ook voor haar gemasturbeer.
Die getraumatiseerde meisie het later haar ouers vertel en die polisie het alle inligting opgevolg.
Hy is Maandag buite die Laerskool Jim Fouché in hegtenis geneem toe sy wit bakkie hier gesien is.
Die jong man, met kort, ligbruin hare en ’n netjiese voorkoms het Woensdag vlugtig in die landdroshof verskyn.
Sy ouers, wat Woensdag agter hom in die hof gesit het, het soms met hom gesels. Sy emosionele ma het hom lank vasgehou, gesoen en gedruk.
Die staat het Woensdag borgtog teengestaan.
Hy sal weer op Maandag 31 Januarie in die streekhof verskyn wanneer hy waarskynlik gaan pleit. Hy bly in aanhouding.
Enigiemand met meer inligting kan ao. Richard Botha, van die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, seksuele misdrywe en vir kinderbeskerming, by 083-697-0982 bel.
- Volksblad