Kind (9) glo met dood gedreig as sy nie kaal poseer
2011-04-20 07:34
Kroonstad - ’n Gr.2-leerling aan ’n Afrikaanse skool op dié dorp is na bewering gedreig dat sy met ’n steakmes “in die hart” gesteek gaan word as sy nie kaal vir haar ma se vriend poseer nie.
Selfoonkamerafoto’s en -videos is na bewering van die kaal 9-jarige geneem kort nadat haar ma ’n beweerde seksorgie met dié man en ’n ander man gehad het.
Die beweerde orgie het glo reg voor die kind plaasgevind.
Die ma en die man wat die kind na bewering met die mes gedreig het, het in streekhof F op die dorp verskyn.
Hulle albei staan voorlopig tereg op aanklagte van seksuele aanvoorwerk, beter bekend as grooming, die gebruik van ’n kind vir kinderpornografie, die vervaardiging van kinderpornografie en die besit van kinderpornografie.
Die man is benewens dié aanklagte ook aangekla van onsedelike aanranding en ontbloting.
Die verdagtes het buite die hof skaars na mekaar gekyk.
Die vrou is deur haar suster ondersteun en die man het buite die hofsaal styf langs ’n bejaarde vrou, glo sy ma, op ’n bankie gesit.
Ná die ma se beweerde seksorgie met die twee mans op 2 Augustus 2009, moes die kind luidens hofstukke na bewering naak in seksueel prikkelende posisies poseer vir foto’s en videos wat glo met ’n Nokia-selfoon geneem is.
Nog ’n man wat glo by die beweerde seksorgie met die verdagtes betrokke was, is nie aangekla nie.
Streeklanddros Rudi Smit het die verhoor tot 13 Junie uitgestel.
Die verdediging gaan in die tydperk tot die volgende hofverskyning vertoë aan die direkteur van openbare vervolging (DOV) rig oor die aanklagte.
Johann Wiegand het vir die staat opgetree.
- Volksblad