Kiesers traag om kruisies te trek
2010-07-22 09:22
Alicestine October
Kaapstad - T-hemde met die gesigte van oudpres. Nelson Mandela en pres. Jacob Zuma het Woensdag veel meer voete na ANC-inligtingstafels by stempunte in wyk 99 getrek as die DA se embleem van ’n opkomende son.
Wyk 99 (Khayelitsha en Mitchells Plain) is een van vier wyke in die Kaapse metropool waar munisipale tussenverkiesings plaasgevind het. Daar was ook verkiesings in twee wyke in Beaufort-Wes.
Laatmiddag was dit egter nog onseker op watter party die son wel gaan skyn wanneer die uitslae bekend gemaak word.
By die stempunt in Monwabisi Park in wyk 99 was die enigste tou dié by die ANC-tafel terwyl kiesers drupsgewys hul kruisies in die stemlokaal gaan trek het.
Teen vroegmiddag het nog net 241 van die 3400 kiesers wat by dié stempunt kan stem hul kruisies getrek.
Dié patroon het hom by verskeie ander stemlokale in die oorwegend swart woongebiede van dié wyk met sy 16000 kiesers herhaal.
Verskeie politieke ontleders het vroeër daarop gewys dat die stempersentasie in tussenverkiesings gewoonlik laag is.
Al die partye het gesê hulle hoop dat die opkoms van kiesers later sou toeneem.
Maria Weavers-Botes, DA-kandidaat in wyk 99, het gesê sy is optimisties.
“In 2009 het ons slegs vier stemme hier gekry, maar ons het tot dusver al 20.
“Daar is dus vordering. Ons moet net positief bly en mense sover kry om te kom stem, dan is ons kans beter.”
Mthetheleli Nombangisana, ANC-koördineerder by die stempunt, het gesê hulle verwag dat meer mense ná 17:00 sal kom stem wanneer hulle klaar gewerk het.
“Ons is seker ons gaan wen. Kyk hoe staan hulle tou.”
Bakkies en minibustaxi’s met ANC-plakkate en luidsprekers het kiesers in Mew-weg opgelaai. Kiesers het uit dié voertuie gebondel en al dansend hul weg gebaan na die ANC-tafels by stempunte.
Klein kinders het met DA- én ANC-vlaggies, sommer in een hand, op en af in die straat gehardloop.
In Lost City, Mitchells Plain, wat ook deel van wyk 99 is, was dit ’n geval van groter is beter toe D’Low, die plaaslike musiekkunstenaar wat as onafhanklike kandidaat gestaan het, kiesers met ’n bus aangery het. Die DA het kiesers met minibustaxi’s aangery.
Die ANC-inligtingstafel was hier aansienlik stemmiger as by die stemlokale in Khayelitsha.
Een van D’Low se ondersteuners, me. Jo-Anne Horne, het gesê die kinders ken al die kermsange oor water, misdaad en ontspanningsgeriewe vir jong mense.
“Ons sing al ’n medley met ons concerns en las net stertjies aan soos dinge erger raak. Al die jare was dit erg. Raadslede kom en gaan, maar die mense bly steeds in poverty.”
- Die Burger