Khumalo se dronkbestuur-klag laat vaar
2010-07-22 09:22
Johannesburg – Die Roodepoort-landdroshof het Woensdag die aanklag van dronkbestuur teen die voormalige Bafana Bafana-ster, Doctor Khumalo, laat vaar.
Volgens The Star staar Khumalo steeds ‘n aanklag van roekeloos en nalatige bestuur in die gesig.
Landdros Susan du Pisane het die saak van dronkbestuur Woensdag laat vaar nadat geen bewyse vanaf ‘n bloedmonster deur die staat voorgelê is nie.
Die verdediging het die hof daarom versoek om die aanklag te laat vaar. Khumalo se regsverteenwoordiger, Johan Pretorius, het aangevoer dat daar moontlik met die bloedmonster “gepeuter is”.
Die staat het egter volgehou dat verskeie ooggetuies erken het dat Khumalo na alkohol geruik het en dat sy spraak geaffekteer was toe sy motor met ‘n taxi gebots het op die N1 in Johannesburg in Mei 2008.
Niemand is in die ongeluk dood nie maar verskeie persone, insluitende ‘n swanger vrou, het ernstige beserings opgedoen.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA