Ketel skok vierjarige dood
2009-12-09 19:50
Durban – ‘n Vierjarige dogtertjie is deur ‘n ketel doodgeskok in haar ouerhuis in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, het die polisie Woensdag gesê.
“Mandisa Zuma was saam met haar ma in hulle huis in die Imbali-area toe die voorval plaasgevind het. Na bewering het sy die ketel gegryp en toe geskok,” het insp. Joey Jeevan, polisiewoordvoerder, gesê.
Volgens Jeevan is die kind na die Embalenhle-kliniek geneem waar sy Dinsdagaand gesterf het.
“Op hierdie stadium blyk dit dat die ketel ‘n elektriese fout gehad het. Die omstandighede rondom die voorval word deur die polisie ondersoek,” het hy gesê.
In ‘n soortgelyke voorval het Nuus24 Dinsdag berig dat ‘n vyfjarige seun homself per abuis met ‘n das by sy ouerhuis in Northdale gehang het.
“Na bewering het die seuntjie met ‘n das gespeel wat aan ‘n kasdeur gehang het in die slaapkamer,” het Derrick Banks, ER24-woordvoerder, gesê.
“Hy het glo op ‘n klein stoeltjie geklim en die das om sy nek gedraai. Daar is nog nie duidelikheid oor wat daarna gebeur het nie. Die huiswerker het later op hom afgekom met die das steeds om sy nek,” het Banks gesê.
–Sapa